Opname van Busrit in die aand

 Hier kan jy na die opname luister, vir dit stem en deel met jou vriende.
Gelees deur Engemi Ferreira
Gedig geskryf deur Elisabeth Eybers

Elk langs sy yl weerkaatsing in die ruit
sit hulle suf, met monde moeg gesluit,
die werkers van die stad wat huis toe gaan.

Skaduwee-skimme gly verby . . . Dis laat
en lang ligvaandels wapper oor die straat
soos oor ’n dam die blinkpad na die maan.

Ons ploeg deur stormsee met ons kaperskuit:
die stuurman aan die wiel, die passasiers die buit
wat ons as slawe huis toe bring vanaand . . .

Die vaartuig waggel afdraand, om die draai,
met skril gekners en skommelende swaai,
en hyg en skok en snork en swoeg opdraand

terwyl ons, soos twee kinders opgetoë,
mekaar toelag met glinsterende oë . . .
Asof hul jammerlik hul lot kan raai

sit hulle suf, met monde moeg gesluit,
elk langs sy yl weerkaatsing in die ruit,
die werkers van die stad wat huis toe gaan.

0 Stem