Uit: Raka

Hier kan jy die gedig lees, 'n klankopname aanlyn maak, luister na klankopnames wat reeds gemaak is en stem vir die opname van jou keuse.

I. Die koms van Raka
Die vroue het hom die eerste gewaar
in die loom namiddag toe die arbeid klaar
was – aan die stampblok, in die jong-groen landerye –
en hulle gedrie, geviere, in dun rye
met kruik en geel, wind-ligte kalbas
op heup en skouer deur die stekerige gras
rustig gestap het na die koel seekoegate
om daar te drentel tot die bruin en laat
skemering en die eerste sterre, met klam sand
en sagte modder om die enkels, in die hand,
om veel te lag en ure te praat,
of skugterig soms een-een uit te waad
deur die taai waterblomme, naak en blink . . .
Raka, die aap-mens, hy wat nie kan dink,
wat swart en donker is, van been en spier
’n lenige boog, en enkeld dier.

Oorkant die water het hy uitgestap
uit die gebreekte riete, en soos ’n kind wat om die grap
van ’n bont kalbassie tandeloos en stil lag,
wit gegryns en, neergehurk, gewag.

Die vroue het sku digter by mekaar
gekruip en oor die stil stroom gestaar:
het hy êrens deur die groot moerasse gekom
waar die ryk waters vlakker óm en óm
in vuil skuim maal en onder die son lê en blink
dagreise breed, en die opdrifsels stink,
verrottend, in die biesies en warm riet?
Hy was geen boorling van dié ruim gebied
van oerwoud en groot groen riviere.
Maar nou het hy met ’n kabbeling in sy spiere
opgerys en oor die grys sand
’n vreemde dans gevoer uit sy land:
geil van begeerte, van wilde vlug en vang
en paring en uitskree onder die dwang
van drifte wat geen naam of doel meer ken;
en toe, soos ’n naelloper na die wit lint ren,
die water afgeskiet en weggeraak
waar die bosse ver-weg blou gange maak . . .
maar teruggekom terwyl die vroue nog stil
was van die wonder – een het geril
asof die poele skielik kouer
was tussen die kanette – en oor sy skouer
’n jong bok gedra waarvan die keel
vars uitgeskeur was met ’n hand, en die geel
huid, vol trilling nog, besmeer
met bloed; dié het hy skuwerig neer
laat gly op die sand, oorkant die water,
en vriendelik gelag met oog en tand
en rooi tong soos van ’n hond; daarby
vrugte en neute en soet riet wat hy
met ’n taai afbeur van die takke gepluk
het, of mét die bleek wortels uitgeruk;
maar woorde het hy geen enkele gesê.

Toe het die vroue die geskenke laat lê
en deur die skemerte die paadjie na die kraal
gevat, die kruike op die kop, traag en skraal,
en langer in die dun skemerlig,
gewieg op heup en voet, in lenige ewewig;
maar min gepraat, want elkeen was ontrus
oor die mooi dier en die vreemde lus
wat sy diep in haar hart maar sterk voel roer het
– soos ’n kind wat speel en áfloer
in die oog van ’n droë bron, miskien
swart water en blink paddas sien . . .
sy hart bly ongerus in die son en by die spel
deur die vermoede van ’n vreemde land gekwel –
so ’t hulle deur die jong aand uit die riet
opgekom. En dié nag was raaisel en lied
stil rondom die kole, maar laat
was die duister nog lewend en luid van die praat.
Die kinders het sku en wyd-oog gesit
en wakker nog toe die as wit
van die laaste stompe val.
Die ander dag
toe die blou visvanger stil was na sy jag
oor die gladde, warm seekoegate,
en klein geslaap het aan ’n takkie oor die water,
het die kinders hom gesien – Raka, die swart dier:
nou ’t hy oor die sand vir hulle plesier
gebuitel, soos ’n perd gerol, gegryns, gespring,
met ’n mank dans gehuppel in ’n kring, –
en skielik in die water weggeplas
waar hy glad en vinnig soos ’n otter was.
’n Blink vis het hy uit op die sand gegooi,
lank soos ’n man se skeen en rooi
en geel gevlek bo die wit maag; . . .
maar meer as hul vrees het hy hulle behaag
met sy mal spronge; hulle het gevlug
lag-lag die biesies uit, maar lag-lag trug
gekyk oor hy so snaaks was; en bo in die kraal
met lag en skrik die ding verhaal.
Die manne het daarna sy krag bemerk
aan die tekens van die groot bosse: sy werk
moes dit gewees het as die swart buffelbul
wat die bosgange en grasruigtes vul
met hees snuiwe en bulk, smôrens styf
in die voetpad gelê het waar die swaar lyf
in die knieë geknak het; as die krokodil
hoog op die sand uit gelê het en ril
soos ’n klein akkedissie wat die kinders met ’n stok
geslaan het; – of die ou spiesvegter, die gensbok,
oordwars, gebreek, stil tussen die polle was;
– as die vlakvark gelê het in die gras
met sy wit lemme, en sy oë soos ’n vis
se oë styf. Die jagters wis
wat krag was en hulle het gevrees.
Maar in die rooi nag by die wilde fees
met bier en bloed en dans en trom
het elkeen soos vuur aan sy voete voel kom
die nuwe jag –
en blind was die oë, wit van die waan, van ’n nuwe krag
en ’n nuwe dans; en duister woorde
het opgeskuim in ’n vreemd-verstoorde
gesang, soos vuil water wat ópwolk
as die magtige seekoei onder in ’n kolk
sy donker vaart vat . . .
Net een was stom
en het ver buite die digte drom
en die rooi glans gestaan in die nag:
Koki, die ratsste op sy voete in die jag,
die slank speler met die spies, hy wat
’n jong bul op sy skuins skouers vat
en wegdra soos ’n hond – hy ’t nie gesing
aan die swart lied wat uit die kring
in die rook en stof gestyg het, maar gedink
aan die ou en helder verdriet wat klink
in die vroeër, yler liedere, en vermoed
dat daar veel kwaad in aantog deur die bloed
van sy besete mense was.
Maar nou
het Raka soos ’n hond pal om die kraal gehou:
geeneen het bedags die klein voetpaaie
gevat wat kronkel deur die draaie
van die blou bosse, of die grasruigtes of palmiet,
en nie sy swart lyf sien roer in die riet
of kreupelhout, of êrens soos ’n skildwag gestel –
maar in die nag as die bosapies skel
uit die donker klae, het hy óm die kraal
soos die ritseling van klein nagdiere gedwaal;
as die wit mis uit die water styg
en in die donkerte gras en blaar en twyg
langs die klam paaie tot ’n vaalte bind
wat soos lang drade beweeg met die wind,
het Raka uit sy lêplek opgekom en gegluur
na die gloed en die rooi strepe van die vuur
tussen die pale deur; en dan het hulle gehoor
ver en verdrietig, in die mis verloor,
sy huil soos van ’n dier, of skielik ná
en skerp sy strandjut-lag, dan klae
en sagte snorke weer, en laat
as die kole koud was en die rokie slaat
af grond toe van die swaar mis en smoor
die kraal en hutte bitter, het hulle gehoor
hoe hy hard in die nag aan die dun pale snuif.

’n Vrou het dan soms onrustig rondgeskuif
op haar matte, swaar van droom, en uit die stil
hut skielik helder uitgegil
van wellus en skrik, en daarna in halwe waak
geweet dat die groot dier naak
en rusteloos buite in die donker was.

 

So maak jy 'n opname aanlyn:

Get Adobe Flash player

Stappe om 'n klankopname te maak:

  1. Klik "Allow" om die opnemer die nodige toestemming te gee om van jou mikrofoon gebruik te maak.
  2. Klik "Close".
  3. Klik "Record" (blou sirkel) en begin praat.
  4. Klik "Stop" wanneer jou voorlesing van die gedig klaar is.
  5. Luister na die opname as jy wil deur op die "Play"-knoppie te klik.
  6. Indien jy tevrede is met jou opname, klik "Stuur opname".

As jy vantevore 'n klankopname gemaak het, kan jy dit hier kies en oplaai:

Moet asseblief nie die blad toemaak voor die opname klaar opgelaai het nie.

Teken in om opnames te laai!

Registreer

 
Of teken in met Facebook:

Daar is nog geen klankopnames vir hierdie gedig gemaak nie. Hoekom maak jy nie een nie?