Opname van Die mot en die kers

 Hier kan jy na die opname luister, vir dit stem en deel met jou vriende.
Gelees deur Philip Nel
Gedig geskryf deur C.J. Langenhoven

Die ander motte was dom en dwaas,
Maar ek sal vér van die kers af bly;
Hier vér uit die skemerte sal ek kyk,
Hier vér is dit veilig en kyk is vry.

Maar ek hoef nie van éénkant net te kyk –
Ek vlieg op dieselfde afstand om,
Dan weet ek van álkant hoe hy lyk
Om beter te sorg om nie nader te kom.

My sirkel was skeef en ingebuig,
Maar dáár ook nog, waar ek naaste was,
Het daar niks gebeur – ek maak verniet
My velling so groot en so vér van die as.

Die wieletjie draai ál vinniger om,
En die lig en die gloed word ál groter genot:
En die vellings word nouer ál rondom die as –
En die end van die wiel is die as van die mot.

 

0 Stem