W.E.G. Louw

W.E.G. Louw

William Ewart Gladstone (W.E.G.) Louw is op 31 Mei 1913 op Sutherland gebore. In 1920 verhuis die gesin na Oranjezicht in Kaapstad. Hy matrikuleer aan die South African College School en behaal in 1935 ’n M.A.-graad aan die Universiteit van Kaapstad. Sy debuutbundel, Die ryke dwaas, verskyn in 1934. Hy ontvang ook die Hertzogprys vir dié bundel (saam met Totius en C. Louis Leipoldt). In 1935 vertrek hy na Amsterdam, waar hy tot 1938 studeer in die Nederlandse taal- en letterkunde. Met sy terugkeer na Suid-Afrika voltooi hy ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad, waarna hy Afrikaans en Nederlands aan Rhodes Universiteit in Grahamstad doseer. W.E.G. Louw en sy broer, N.P. van Wyk Louw, speel ’n belangrike rol in die stigting van die kulturele tydskrif Standpunte in 1945. Louw is vanaf 1957 tot 1966 die kunsredakteur van Die Burger. Hy is daarna professor in Nederlandse letterkunde van 1967 tot met sy aftrede in 1978 aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy is op 24 April 1980 op sy plaas, Sondraai, naby Stellenbosch aan ’n hartaanval oorlede.

Bron: www.nb.co.za

Gedigte deur W.E.G. Louw