Toon van den Heever

Toon van den Heever

Frans P. van den Heever is op 29 November 1894 in die distrik Heidelberg, in die destydse Transvaal, gebore. Tot sy veertiende jaar gaan hy skool op Montagu, en toe is hy na die hoërskool op Ermelo waar hy matrikuleer. Aan die T.U.K., Pretoria, behaal hy in 1916 sy B.A.-graad. Hy gee eers onderwys en studeer terselfdertyd in die regte. In 1921 begin hy as advokaat in Windhoek praktiseer. Daarna beklee hy verskillende betrekkings as regsgeleerde in die Staatsdiens. In 1938 word hy na die Vrystaatse regbank in Bloemfontein gestuur waar hy in 1948 tot regter-president van die Oranje-Vrystaat en appèlregter bevorder word. Sy bydrae tot Afrikaans is nie beperk tot die kreatiewe werk wat hy met sy poësie doen nie, maar ook sy bydrae as juris om Afrikaans as regstaal te vestig. Hy sterf op 29 Januarie 1956 in Bloemfontein.

Van hom verskyn Gedigte (1919), wat in 1931 in ’n tweede uitgawe onder die titel Eugene en ander gedigte gepubliseer word, asook Die speelman van die Dorestad (1949). Vir Gedigte ontvang hy in 1951 die Hertzogprys vir poësie.

Bronne: Digters en digkuns – P.J. Nienaber (Afrikaanse Pers-boekhandel, 1963); Wikipedia; Literatur im Kontext.

Gedigte deur Toon van den Heever