J.R.L. van Bruggen

J.R.L. van Bruggen

Dr. Jan Reinder Leonard van Bruggen (Johannesburg, 15 September 1895 – Johannesburg, 9 Mei 1948), jonger broer van die bekende romanskrywer Jochem van Bruggen, was ’n Afrikaanse digter, skrywer, onderwyser en dosent. Hy het die skuilnaam Kleinjan gebruik.

Hy ontvang sy hoërskoolopleiding aan die King Edward VII-skool in sy tuisdorp en sy universiteitsopleiding aan die destydse Transvaalse Universiteitskollege, die voorloper van die Universiteit van Pretoria. Hier behaal hy die B.A.-graad met onderskeiding en verwerf die eerste plek in Suid-Afrika. Hierdie prestasie het hom die koninklike goue medalje vir moderne tale besorg.

Van Bruggen het ook, in samewerking met ad. Theo Boezaart, die strydkreet van die Universiteit van Pretoria geskryf.

Pas ná die Eerste Wêreldoorlog is hy na die Amsterdamse Universiteit waar hy in 1922 die D.Phil.-graad behaal. Die jaar daarna keer hy na die Unie terug en tree toe tot die personeel van die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg. Hy werk vyf jaar lank hier as onderwyser. Daarna is hy aangestel as dosent in Afrikaans aan die Onderwyskollege, Potchefstroom, ’n betrekking wat hy 15 jaar lank beklee het.

Deur al die jare heen het letterkunde altyd sy groot liefde gebly en hy het hom veral toegelê op jeuglektuur, ’n gebied waarop hy ’n deskundige was. Sy doktorale proefskrif het gehandel oor Lektuurvoorsiening vir kinders en jeugdige persone, en terwyl hy nog onderwyser aan die Helpmekaar was, was hy redakteur van die destydse Christelike Skoolblad (later die Onderwysblad), amptelike orgaan van die Transvaalse Onderwysersvereniging.

Sy vernaamste publikasies is vier bundels gedigte, agt romans, twee bundels kortverhale en drie dramas. Self het hy gesê: “Dis miskien te wyte aan die grote van my postuur (hy was ses voer vier en 'n half duim lank, oftewel 193 cm) dat ek nog altyd in klein dingetjies belang gestel het.”

Oor sy skrywerskap oordeel J.C. Kannemeyer as volg in Die Burger van 6 Mei 1998:

“Van Bruggen is veral van historiese betekenis vir die psigo-analitiese roman Japie (1922), wat vandag egter met die onoortuigende hoofkarakter totaal onleesbaar is.

“Ook met sy latere romans het Kleinjan nie veel beter gevaar nie, al is Bittereinders (1935), waarin hy die ervarings van mense in Mafeking se konsentrasiekamp verwerk, ’n belangrike stuk dokumentasie.

“Dit is egter veral vir enkele gevoelige verse, soos ‘Die beeld van oom Paul’ en die verlange-vers ‘Heimwee’, ’n voorspel op W.E.G. Louw se ‘Oktober’, dat hy vandag onthou word.”

Bron: Nienaber, P.J. 1949. Hier Is Ons Skrywers! Biografiese Sketse van Afrikaanse Skrywers. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel

Gedigte deur J.R.L. van Bruggen