Ingrid Jonker

Ingrid Jonker

Ingrid Jonker is op 19 September 1933 op Douglas in die Noord-Kaap gebore. Haar ma is dood toe sy nog klein was, en sy moes as kind ’n paar keer rondtrek. Haar pa, Abraham H. Jonker, was ’n Nasionale Party-politikus en hulle het nie goed oor die weg gekom nie. Sy het aan Wynberg Meisieskool gematrikuleer en daarna by boekwinkels, uitgewers en drukkerye gewerk. Haar debuutbundel, Ontvlugting, verskyn in 1956, en sy ontvang in 1964 die A.P.B.-prys vir haar tweede bundel, Rook en Oker. Die prysgeld en ’n studiebeurs van Anglo American stel haar in staat om oorsee te reis. Haar dogter, Simone, is gebore uit haar huwelik met Pieter Venter, van wie sy later geskei is.

Ingrid word gegroepeer onder die “Sestigers” waarvan André P. Brink en Jan Rabie ook deel was.

Sy pleeg selfmoord deur op 19 Julie 1965 by Drieankerbaai die see in te loop. Haar derde en laaste bundel, Kantelson, het postuum in 1966 verskyn.

Sy is in 2004 postuum met die Orde van Ikhamanga (silwer) bekroon vir haar letterkundige bydrae in Afrikaans, asook haar bydrae tot versoening in Suid-Afrika.

Bron: www.nb.co.za

Gedigte deur Ingrid Jonker