H.A. Fagan

H.A. Fagan

Henry Allan Fagan is op 4 April 1889 op Tulbagh in die Wes-Kaap gebore. Hy was ’n regsgeleerde en later hoofregter van die Unie van Suid-Afrika wat poësie, prosa en dramas geskryf het. Fagan is op 6 Desember 1963 aan sy huis Keurbos, Bishopscourt, in Kaapstad aan ’n hartaanval oorlede.

Sy digdebuut, ’n Eerste digbundel: Uitgesogte gedigte (1917), bevat gedigte wat al in 1910 geskryf is, en volgens J.C. Kannemeyer het hy hiermee die poësie van die tweede generasie ná 1900 ingelei. “Die bundel bevat enkele gevoelige stemmingsgedigte, terwyl hy ’n paar impressionistiese prosastukkies en ’n lang gedig (in Nederlands) oor ‘De vrouwen van het voorgeslacht’ – op versoek van pres Steyn by geleentheid van die onthulling van die Vrouemonument geskryf – aan die versameling toevoeg”.

Fagan se tweede digbundel, Soos die windjie wat suis, is in 1949 gepubliseer. Die gedigte van die eerste helfte van hierdie bundel is in 1947 geskrywe terwyl hy in die Kommissie oor Naturellewette gedien het. Die eerste deel, getiteld “1947”, het by die bespieëlende aard van sy vroeë verse aangesluit en het een van sy geslaagdste gedigte bevat – “Ek het ’n huisie by die see”. Hierdie gedig is later deur Laurinda Hofmeyr getoonset en deur Laurika Rauch gesing en bekendgemaak.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het in 1953 die Hertzogprys aan Fagan toegeken vir Die ouderling en ander toneelstukke. Veral word Ousus genoem “vir die uitbeelding vol smartlike humor van menslike hunkering en die ironie van die lewe”.

Bron: ATKV Skrywersalbum – Erika Terblanche (www.litnet.co.za)

Gedigte deur H.A. Fagan