Eitemal

Eitemal

Willem Jacobus du Plooy Erlank is op 22 Junie 1901 op die plaas Blinkklip buite Wolmaransstad in die destydse Wes-Transvaal (vandag Noordwes) gebore. Op 24 Junie 1984, twee dae ná sy verjaardag, is Eitemal weens longversaking in sy huis op Stellenbosch oorlede.

Eitemal was digter [Weerklankies (1928), Phaeton en ander gedigte (1931)], liriekskrywer, dramaturg en vertaler, maar volgens J.C. Kannemeyer in Die Afrikaanse Literatuur (1952-2004) was sy mees beduidende bydrae op die gebied van die prosa: “Eitemal se belangrikste werk en ’n klein meesterstuk is Jaffie (1953), ’n ‘eselsromannetjie’, waarin die verhaal van Christus se geboorte, lewe en lyding naas die vertellings oor familie en voorgeslagte in die mond van dierekarakters gelê word.”

In 1981 het die FAK Eitemal vereer vir sy lewenslange toewyding aan die Afrikaanse volkslied. Gawie Cillié, voorsitter van die FAK in daardie stadium, het Eitemal gehuldig as die enigste oorlewende lid van die driemanskap wat verantwoordelik was vir die eerste verskyning in 1940 van die bekende FAK-sangbundel. Die bundel het in 1931 “ontkiem” deur ’n lesing wat Eitemal in Kaapstad gehou het tydens die tweede kongres van die FAK. Die lesing was getiteld “Kulturele betekenis van die volkslied”.

Bron: ATKV Skrywersalbum – Erika Terblanche (www.litnet.co.za)

Gedigte deur Eitemal