C.M. van den Heever

C.M. van den Heever

Christiaan Maurits van den Heever is op 27 Februarie 1902 in die konsentrasiekamp van Norvalspont gebore. Hy gaan eers skool op Krugerspoor, in die distrik van Trompsburg, en daarna in Bloemfontein aan die Brebner- en die Grey-kollege. Ná sy matrikulasie is hy ’n rukkie as onderwyser en staatsamptenaar werksaam totdat hy na die G.U.K. gaan waar hy sy B.A.-graad behaal. Hy was redaksielid van Die Volksblad en behaal in 1926 ’n M.A.-graad. In 1928 vertrek hy na Nederland waar hy sy studies aan die Universiteit van Utrecht voortsit. Met sy terugkeer na Suid-Afrika aanvaar hy ’n pos as lektor aan die Bloemfonteinse Universiteit. In 1932 ontvang hy sy doktorsgraad op grond van ’n proefskrif oor die digter Totius, waarna hy in 1933 as hoogleraar in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand aangestel word. Hy sterf op 8 Julie 1957.

Sy bekendste romans is Somer (1935) en Laat vrugte (1939). Vir laasgenoemde ontvang hy die Hertzogprys vir prosa in 1942. Hy was ook ’n vooraanstaande digter en het die volgende digbundels gepubliseer: Stemmingsure (1926), Die nuwe boord (1928), Aardse vlam (1938), Versamelde gedigte (1945), Verhalende gedigte (1950) en Honderd sonnette (1955).

Bronne: Digters en digkuns – P.J. Nienaber (Afrikaanse Pers-boekhandel, 1963); Wikipedia

Gedigte deur C.M. van den Heever