C.J. Langenhoven

C.J. Langenhoven

Cornelis Jacob Langenhoven is op 12 Augustus 1873 op Hoeko naby Ladismith in die Wes-Kaap gebore. Hy het in 1895 ’n BA-graad en in 1899 ’n LLB-graad aan die Victoria-kollege op Stellenbosch verwerf. Hy het kort daarna ’n prokureurspraktryk op Oudtshoorn begin, en in 1912 word hy die redakteur van die plaaslike koerant, Het Zuid-Westen. Langenhoven raak daarna by die politiek betrokke en is in 1914 tot die Kaaplandse Provinsiale Raad en in 1920 tot Volksraadslid vir Oudtshoorn verkies. Hy het vir meer as 10 jaar die rubriek “Aan stille waters” in Die Burger waargeneem wat onder die naam “Sagmoedige Neelsie” verskyn het.

Sy eerste publikasie, Stukkies en brokkies, het in 1911 verskyn. Hy het daarna verskeie boeke soos Sonde met die bure, Loeloeraai, Brolloks en Bittergal en Donker spore geskryf. Laasgenoemde, wat in 1926 verskyn het, word beskou as die eerste speurroman in Afrikaans. Hy is in 1927 met die Hertzogprys vir prosa bekroon vir Skaduwees van Nasaret.

C.J. Langenhoven is op 15 Julie 1932 in sy huis Arbeidsgenot op Oudtshoorn oorlede. Hy is vandag steeds bekend vir sy gesegdes en sy spreuke is gewilde aanhalings. Langenhoven se Versamelde werke het eers in 14 volumes verskyn en later in 16 volumes.

Bron: www.nb.co.za

Gedigte deur C.J. Langenhoven