C. Louis Leipoldt

C. Louis Leipoldt

Christiaan Frederik Louis Leipoldt is op 28 Desember 1880 op Worcester gebore, en oorlede op 12 April 1947 in Kaapstad. Hy het nooit ’n skool besoek nie – sy pa het hom tuis onderrig. Ná sy matrikulasie in 1897 word hy joernalis tot hy in Londen in die medisyne gaan studeer. Hy onderneem uitgebreide wêreldreise, maar in 1914 word hy mediese inspekteur van skole in die voormalige Transvaal, en in 1919 van die destydse Kaapprovinsie. Hy word in 1923 redaksielid van Die Volkstem en vestig hom daarna as kinderarts in Kaapstad. In 1926 is hy aangestel as redakteur van die Suid-Afrikaanse Geneeskundige Tydskrif, en in 1939 word hy voltydse sekretaris van die Geneeskundige Vereeniging. Ná sy aftrede op 60, wy hy hom tot sy dood aan joernalistieke werk.

Leipoldt was ook ’n meestersjef met diplomas van drie van Europa se beroemde sjefs, insluitende dié van koning George V. Hy is een van die vroegste koskenners van Suid Afrika en word deur vandag se kosghoeroes met bewondering bejeën.

Uit sy pen het meer as 40 oorspronklike werke verskyn – romans, kortverhale, dramas, kinderboeke, kookboeke en digbundels. Sy eerste digbundel, Oom Gert vertel en ander gedigte, is in 1911 gepubliseer. Daarna volg, onder meer, Dingaansdag (1920), Uit drie wêrelddele (1932), Skoonheidstroos (1932), Die Moormansgat (1948) en Geseënde skaduwees (1949).

Bronne: Digters en digkuns – P.J. Nienaber (Afrikaanse Pers-boekhandel, 1963); www.nb.co.za; Wikipedia

Gedigte deur C. Louis Leipoldt