Breyten Breytenbach

Breyten Breytenbach

Breyten Breytenbach is op 16 September 1939 in Bonnievale gebore. Hy matrikuleer in 1957 aan die Hoërskool Hugenote in Wellington en studeer aan die Universiteit van Kaapstad. Sy eerste gedigte verskyn in die studenteblad Groote Schuur in 1959. Hy verlaat Suid-Afrika en gaan na Parys, Frankryk, in die 1960's. Hy debuteer in 1964 met die vernuwende digbundel Die ysterkoei moet sweet en in dieselfde jaar verskyn ’n prosawerk Katastrofes.

Na sy huwelik met Yolande Ngo Thi Hoang Lien, ’n Franse vrou van Viëtnamese oorsprong, kan hy nie na Suid-Afrika terugkeer nie weens die Wet op Gemengde Huwelike. In 1973 word ’n spesiale visum vir die eerste keer toegeken aan hom en Yolande en keer hulle na Suid-Afrika terug vir ’n skrywerskongres aan die Universiteit van Kaapstad. Tydens ’n besoek aan Suid-Afrika in 1975 met ’n vals paspoort word hy gearresteer op ’n klag van terrorisme en gevonnis tot nege jaar tronkstraf. Ná sewe jaar word hy vrygelaat. Hy ontvang die Hertzogprys vir poësie in 1984 vir Yk, maar weier om dit te aanvaar.

Breytenbach se werk sluit poësie, romans, toneelstukke en essays in, waarvan die meeste in Afrikaans is en ’n aantal wat oorspronklik in Engels gepubliseer is.

Hy ontvang die Hertzogprys vir poësie in 1999 vir Oorblyfsels: ‘n roudig en Papierblom . Sy digbundel, Die windvanger. (2007), is met die Universiteit van Johannesburgprys vir skeppende skryfwerk, die Hertzogprys én die W.A. Hofmeyr-prys bekroon. In 2010 ontvang hy die Mahmoud Darwish Prys, asook die Max Jacob Prys vir Outre Voix/Voice Over, die Franse uitgawe van Oorblyfsel/Voice Over.

Tans verdeel hy sy tyd tussen Europa (hy het Franse burgerskap), Afrika en Amerika. Hy is betrokke by die Gorée-instituut in Dakar, Senegal en by die Columbia Universiteit van New York waar hy klasgee in kreatiewe skryfwerk.

Bron: www.nb.co.za

Gedigte deur Breyten Breytenbach