Antjie Krog

Antjie Krog

Anna Elizabeth (Antjie) Krog is op 23 Oktober 1952 in Kroonstad gebore. Sy is 18 jaar oud toe haar eerste digbundel, Dogter van Jefta, in 1970 verskyn. In 1972 verskyn Januarie-suite en dit is in 1973 met die Eugène Marais-prys bekroon. Sy behaal ’n BA-graad en honneursgraad in Engels (1973) aan die Universiteit van die Vrystaat. In 1976 verwerf sy ’n MA-graad in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. Haar digbundel Jerusalemgangers is in 1987 met die Rapportprys bekroon en in 1990 ontvang Antjie die Hertzogprys vir poësie vir Lady Anne. In 1993 is sy aangestel by die tydskrif Die Suid-Afrikaan, en in 1995 begin sy as politieke verslaggewer by die SAUK werk. Antjie lewer van 1996 tot 1998 verslag oor die Waarheids- en-versoeningskommissie. Sy verwoord haar ervarings oor die proses in Country of my Skull wat in 1998 gepubliseer is en wat onder meer die Alan Paton-toekenning vir niefiksie en die Olive Schreiner-prys ontvang.

In 2003 word die bundel Met woorde soos met kerse, haar Afrikaanse vertalings en verwerkings van poësie uit Suid-Afrikaanse inheemse tale, aangewys as die wenner van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se driejaarlikse wedstryd. Kwela Boeke publiseer in 2004 die digbundel Die sterre sê 'tsau' en dit haal die kortlys van die M-Net-prys vir poësie vir 2005. Kleur kom nooit alleen nie is in 2001 met die eerste RAU-prys vir skeppende skryfwerk bekroon. In 2007 ontvang sy vir haar digbundel Verweerskrif die Protea-prys vir poësie.

Sy is sedert 2004 ’n buitengewone professor in Lettere en Wysbegeerte aan die Universiteit van die Wes-Kaap.

Bron: www.nb.co.za

Gedigte deur Antjie Krog