André Letoit

André Letoit

Koos Kombuis/Koos A. Kombuis is die skuilnaam van André le Roux du Toit, ook bekend as André Letoit.

André le Roux du Toit is op 5 November 1954 in Kaapstad gebore. Sy gesin het baie rondgetrek, maar vir ’n tyd op Stellenbosch en toe Pretoria gewoon. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Menlopark in Pretoria. Hy is na skool weermag toe en het daarna by verskeie plekke gewerk, onder meer as klerk in die staatsdiens, ’n polisverkoper en ’n brandweerman. Daarna het hy vir twee jaar op vryskutbasis vir Huisgenoot kortverhale geskryf. Hy debuteer in 1980 as André Letoit met die digbundel, Brêkfis met vier, saam met Daniel Hugo, Peter Snyders en Etienne van Heerden. Daarna verskyn digbundels soos Suburbia, Die geel kafee en romans soos Somer II en Suidpunt-jazz. In die laat tagtigs raak hy betrokke by die alternatiewe Afrikaanse musiekbeweging en is hy saam met Johannes Kerkorrel een van die leiers van die Voëlvry-toer. In hierdie tyd begin hy die naam Koos Kombuis gebruik as musikant sowel as skrywer.

Die afgelope paar jaar publiseer hy onder meer ’n outobiografie (Seks, drugs & boeremusiek), ’n Voëlvry-memoir (Die tyd van die kombi’s), ’n roman (Hotel Atlantis), ’n satire in Engels (The Complete Secret Diaries of God) en ’n riller (Raka – die roman).

Bron: www.nb.co.za

Gedigte deur André Letoit