Sneeuwitjie 1

Hier kan jy die gedig lees, 'n klankopname aanlyn maak, luister na klankopnames wat reeds gemaak is en stem vir die opname van jou keuse.

Niemand heeft meer liefde dan deze. Joh.15:13

“Kom ons twee gaan die kalfie soek,
Ons tweetjies, ek en jy,
Die beeste het daar in die hoek
Die hele dag gewei.

“Die weer word dik, die windjie sny
En ons moet niks versuim,
Want as die kalfie buite bly,
Sal hy vannag verkluim.”

Sy was ’n kind geen twaalf jaar oud,
Pas sewe jaar was hy;
Maar albei reeds teen warm en koud
Deur armoed al gebrei.

So loop die twee die bultjie oor
En op al langs die vlei.
Dán sien hulle iets wat roer daar voor,
Dán iewers weer opsy.

Die wind gaan lê, en saggies daal
Sneeuvlokkies wit en rein.
Al verder steeds het hul gedwaal
Weg van die huisie klein.

Maar toe die sneeu so vinnig val,
Begin klein broertjie huil;
Toe het hul teen die sloot se wal
’n Tyd lank eers moet skuil.

En later, toe die bui bedaar,
Was alles wit rondom.
“Waar is die huis nou, sussie, waar?
Hoe sal ons daar weer kom?”

Met moeë voetjies loop hul snel
Al met die slootjie langs,
Met ogies waarin trane wel,
En hartjies vol van angs.

“Ag, Here, wys ons waar’s die huis,”
Het Racheltjie gebid;
Maar bo was net die wind wat suis,
En onder alles wit.

Al in die rondte ’t hul geloop,
Al minder word die krag,
Twee kleintjies sonder gids of hoop
Verlore in die nag!

*

Koud kom die man tuis uit die veld.
“Waar is die kinders, vrou?”
“Genade, man,” roep sy ontsteld,
“Is hulle nie by jou?”

“Was hulle dan nie by die kraal?”
Vra hy van skrik oorstelp.
“Dan het hulle in die veld verdwaal –
Ag, liewe Here, help!”

Vergeefs gesoek die ganse nag
En vure aangesteek.
Hul moes maar handewringend wag
Totdat die rooidag breek.

En toe van nuuts af aan weer soek.
Ou Jonas sny die spoor
Al langs die vlei tot in die hoek,
Daarna die bultjies oor.

“Hoekom is hier een spoor nou net?”
“Hoe kan die baas so vra?
My arme nonnatjie . . . sy het
Die kleinbaas hier moet dra.

“Sy loop al in die rondte om
Net soos die skaap wat maal.
Die witmens . . . hy is baie dom . . .
Die witmens . . . hy verdwaal!”

Nou het ou Jonas iets gewaar;
Hy luister en hy loer:
“Die uitgeholde miershoop daar –
Wat is dit wat daar roer?

“Hy lewe nog, klein Hendrikkie,
Hy’s binnekant nog warm . . .
Inkosi2 het die nonnatjie
Gebêre in sy arm.

“Hy het haar met Sy kleed bedek . . .
Sy voel nie meer die kou.
Sy’t al haar kleertjies uitgetrek
Die kleinbaas te behou!”

O wonder dat ’n hart so warm
Nie al die sneeu kon smelt –
’n Hart wat sig so kon erbarm
Alleen daar op die veld!

Wanneer jy, Afrikanerkind,
So heerlik voor die vuur
Sit luister na die winterwind
Daar buite, koud en guur;

Wanneer jy van die dade leer
Van menig dappere held,
Vergeet nie Racheltjie de Beer –
Sneeuwitjie van die Veld!

1. Eugène Marais vertel in sy Sketse uit die Lewe van Mens en Dier die geval van byna voorbeeldelose selfopoffering van ’n klein Boeredogtertjie, Rachie de Beer, wat haar broertjie se lewe gered het deur hom in ’n miershoopoond met al haar kleertjies toe te maak toe hulle in ’n storm verdwaal het. Sy self het van koue omgekom.
2. Die Here.

 

So maak jy 'n opname aanlyn:

Get Adobe Flash player

Stappe om 'n klankopname te maak:

  1. Klik "Allow" om die opnemer die nodige toestemming te gee om van jou mikrofoon gebruik te maak.
  2. Klik "Close".
  3. Klik "Record" (blou sirkel) en begin praat.
  4. Klik "Stop" wanneer jou voorlesing van die gedig klaar is.
  5. Luister na die opname as jy wil deur op die "Play"-knoppie te klik.
  6. Indien jy tevrede is met jou opname, klik "Stuur opname".

As jy vantevore 'n klankopname gemaak het, kan jy dit hier kies en oplaai:

Moet asseblief nie die blad toemaak voor die opname klaar opgelaai het nie.

Teken in om opnames te laai!

Registreer

 
Of teken in met Facebook:

Daar is nog geen klankopnames vir hierdie gedig gemaak nie. Hoekom maak jy nie een nie?